BESINNING VIR DIE TWEEDE SONDAG NA PINKSTER
Die verhale in Genesis het almal ‘n besondere openbaringskarakter. Dit help ons om diep na te dink oor die lewe, oor God, oor menswees en oor wat regtig belangrik is in dié lewe. Dit sluit vir ons die betekenis van ons menswees oop en nooi ons uit om op die belangrike dinge te konsentreer. Genesis 18 wys vir ons hoe gasvryheid ‘n sleutel is tot ‘n diep verhouding met God, ‘n herstelde verhouding met mekaar en ‘n lewensveranderende verhouding met die wêreld. Gasvryheid is nie maar ‘n toevallige ding wat sommige kan doen en ander kan nalaat nie. Dit het nie net met jou persoonlikheid te make nie, maar met die diepste dele van jou menswees. (Woord en Fees 2016/2017)